top of page

Happy Anniversary, Jody.

Op 6 September sou ons 15 jaar getroud gewees het.


Wat die 6de September spesiaal maak is dat my skoonouers ook op daardie datum getrou het. Asook Jody se ouma en oupa. Wat dit nog meer uniek maak is dat al 3 generasies presies 28 jaar uit mekaar getrou het. Dis amptelik 'n Kohn-tradisie.


Aansoeke nou oop vir De Wet, my oudste, se trouvrou. Hy moet dus die knoop deurhaak in 2036 ;)


Met die terugkyk na ons troufotos en video is dit nogals skrikwekkend om te sien hoeveel mense nie meer met ons is nie. My man, my vriendin, my ouma, oupa, tannie, oom, 'n vriend se pa ... en nog 'n paar ander.


Paartjies is uitmekaar, geskei, en van hulle het al nuwe lewens weer begin. Meeste het nou kinders. Van hulle het 'n lewe oorsee gaan maak. Van die vriende is nog in my lewe, ander het kontak verloor. Van hulle is nou net gesigte op Facebook. Dis wat 15 jaar kan doen.


Buiten die mense wat nie meer met ons is nie, is die draping en organza tie backs ook diep kommerwekkend. Ek moet seker maar net aanvaar dat dit wél toe mode was.


Maar die les wat ek hier leer, (behalwe dat 'n goeie troufotograaf régtig 'n investment is), is dat als binne 15 jaar kan verander. Alles. Inteendeel, als kan in 'n oogwink verander.


Vanoggend toe ek vir De Wet by die skool aflaai het ek sommer op die hoek by die stopstraat voor die skool gestop. Natuurlik vir De Wet aangejaag wat ek het die karre agter ons opgehou. Nog gesê hy kan nie nou nog vir Reuven ordenklik groet nie, daar is nie tyd nie. Want tannie Stienie agter my wil ry. Sy is dalk nie eens haastig nie, maar ek voel paniekerig omdat ék haar ophou.


Toe ek wegry besef ek; enige iets kan die week gebeur en dan De Wet het nie eens vir Reuven ordenklik gegroet nie. En dit als om 2 minute vir tannie Stienie te spaar. Tannie Stienie kon eintlik maar wag.


 

Geskryf op 6 September 2023 aan Jody:


Dis suppose om ons anniversary te wees.


Soos ek jou ken het jy reeds ‘n restaurant tafel iewers bespreek naby ‘n kaggelvuurtjie.


Vanaand drink jy saam met my ‘n rooiwyntjie, maar eers 'n goeie whisky op ys. Jy sou heel waarskynlik steak bestel het, of een of ander stuk vleis, terwyl die gnocchi of cordon bleu vir my die die mees aanloklikste sou lyk. En dan sou jy weer gevra het of ek nou vegetaries gedraai het, want hoender is mos groente. Daai grappie het my geïrriteer, maar nou sou ek hom weer wou hoor.


Ons sou ‘n storm weg gesels het. Eers oor ditjies en datjies en later seker weer redes begin uitkrap het oor hoekom die lewe nou so ‘n snaakse draai met ons moes neem. Dan sou ek ver in die toekoms planne begin beraam het en jy sou my so bietjie terug aarde toe gebring het. Subtiel.


Nou dink ek nie verder as die volgende maand nie. Partykeer nie eens die volgende dag nie. Ek weet nie hoe lank ek waar gaan bly nie, want wat maak dit tog saak as als elkgeval so maklik kan verander.


Ek vat elke dag soos dit kom en maak die beste daarvan tot my vermoë met wat ek daardie dag beskikbaar het. En met wat ek huidiglik het.


Dankie vir die 13 jaar getroude lewe en alles wat ek geleer het, Jody. Met jou hier met ons en selfs met jou dood. I would do it again. Ek sal sekere goed anders doen as ek kon terug gaan in tyd, maar ek sou weer JA sê op 6 September 2008. Al het ek geweet wat kom.


 

Jammer julle, die foto's is super scrambled, maar dis hoe ek dit ontvang het.

Ek sou die fotograwe credit, maar ek dink nie die besigheid bestaan meer nie.




















































































































301 views2 comments

Recent Posts

See All
bottom of page