top of page

Die storie van ons

Hallo. Ek is Madré.

80% van die tyd geinspireerd en gemotiveerd. 20% diep vies vir die lewe. En so gaan dit maar soos 'n mallemeule, op en af, elke dag. Party dae is goed, en ander sommer k@k. En as dit k@k is, is dit regtig k@k.

​

Jy sien, die liefste mens, my man, my beste vriend en pa van my seuns is bitterlik onverwags oorlede op 5 Maart 2022. My grootste vrees het waar geword. My lewe is tot stilstand geruk, my hele wêreld het in een sekond verander. Sommer net so, en sommer net so skielik en way te maklik. Tot vandag toe voel dit steeds onwerklik, asof dit nog nie heeltemal ingesink het nie.

 

Die journey daarna was, en is, ook nie maklik nie. Dis soos 'n wegholtrein en jy hou net vas vir jou lewe. Party dae voel jou greep stewig en ander dae wapper jy agterna soos 'n half uitgerafelde, sonverbleikte vlaggie. Eens op 'n tyd was ek 'n rooi en nou is ek 'n weird tie-die pienk en ek probeer hard om die nuwe look te embrace.

 

Ek is alewig besig met uitdagings, vure doodslaan en kop probeer bo water hou - nie net vir myself nie maar ook vir ons 2 seuns. En ek het voor 5 Maart gedink die lewe is kompleks. As ek maar net geweet het hoe eenvoudig dit eintlik was. Wanneer jou persoon doodgaan, gaan dit soveel meer as net oor die rouproses. Daar is baie meer uitdagings as net die emosionele deel.

​

Skryf is deel van my rouproses. Ontwerp en verf is my passie. En hierdie is my storie. Met hierdie blog gooi ek die lot saam sodat ek een platform kan hê waar ek my kan uitleef op alle vlakke, en hopenlik ook ander se lewens op 'n positiewe manier kan aanraak, al is dit net dat iemand nie so alleen voel nie. Miskien kan ek ook brood op die tafel hou deur nou en dan ook so 'n ietsie te verkoop.

 

Welkom by my alles-behalwe-vanilla-storie.

​

Hier gaan ek my gedagtes en ondervindige neerpen, goeters mooimaak, regmaak, huil, skep, (probably baie) wyn drink, plekke besoek, en net my journey deel met wie ookal lus is om te kyk of te luister. 

 

Al is dit selfs vir my eie reis na heelwording.

​

​

“For I know the plans I have for you,” declares the Lord, “plans to prosper you and not to harm you, plans to give you hope and a future”.

​

Jeremiah 29:11

​

​

Madre-&-Familie_Des2022_LeandriGeldenhuysPhoto87.jpg
bottom of page