top of page

Dromdag: Altus, chill jou guava!

Altus, chill jou guava. Seriously.


Weereens is dit ‘n gejaag voor loadshedding wat 20h00 plaasvind. Ek mis die ekstra hulp wat ek so bietjie voel ek ‘for granted’ gevat het. Ek vra my tiener om asb al die badkamerdrommetjies te kom leeg maak in die groot buitedrom, want more is Donderdag - en Donderdag beteken DROMDAG. Dis ‘n wonderwerk dat ek dit elke week onthou. Seker die enigste ding wat ek nie as ‘n reminder op my selfoon hoef te sit nie.


Soos verwag, is dit eers ‘n ge-moan en groan en ek moes dreig met selfoon wegvat sodat die uwe tiener instem. Mens sou dink na als wat mens doen en opoffer, die orige familielede net so klein bietjie na mens se pype sou dans, maar dis nie hoe dit werk in realiteit nie.


Uiteindelik is hy hier weg (met moerse houding) en ek kyk wat ek verder kan klaarkry in die huis.


Uit die bloute, lui die telefoon. Dis die sekuriteitstelefoon en al wanneer hulle bel is as iemand by die hek is wat wil inkom om te kuier en vir sekuriteitsredes, moet ek toestemming gee. Die helfte van my wonder wie nou sal opdaag om te kom kuier, sommer so ongenooid sonder om enige iets te reel. Die ander helfte van my hoop iemand daag net hier op en sê “ons gaan NOU braai” met ‘n coolerbag vol braaivleis en begin net spontaan ‘n vuurtjie. EN gooi natuurlik vir my ‘n wyntjie. Want joh… ek mis dit!


Ek probeer uitmaak wat aan die anderkant van die foon aangaan. Eers praat die sekuriteitswag en ek sukkel so bietjie om uit te maak wat hy sê.

Ewe skielik hoor ek ‘n stem in ‘n bekende aksent.

“Goeienaand mevrou,” sê die stem ernstig.

“Naandsê?” antwoord-vra ek.

“Dis Altus wat praat. Is dit u kind wat sopas die drom kom uitsit het?”


Ek voel koud. Iets het gebeur. My kind is dood. Ontvoer. Het seergekry. Iemand het bo-oor hom gery.


“Ja, is daar iets fout?” vra ek, eintlik té bang om te hoor wat die antwoord gaan wees.

“Ken u die reels van die kompleks wanneer dit kom by die dromme uitsit, mevrou?”


Ek wonder wat die reels is vir ‘n oomblik aangesien ek nie ‘n formele dokument ontvang het oor dié reeling nie, so ek mag dalk iets gemis het. Of dalk het dit in die verkoopskontrak gestaan, maar die tyd wat ek daardie gelees het was ek nie so “met dit” nie. En dis boonop al ‘n jaar terug, so dalk het ek vergeet. Miskien is ek nog nie deel van die relevante Whatsapp-groepie nie?


“Nee, ek dink nie so nie …” antwoord ek versigtig, nie seker wat die regte antwoord moet wees nie.

“Elke drom het ‘n afbakening, ‘n blok waarin dit geplaas word.” Altus klink ordenklik en geleerd. Ek luister aandagtig.


“Jou seun het nou net voor my ingekom, nes soos ek my drom ook uitsit, en hy het julle drom ingeneem en het nie dit ingedagte geneem nie.”


Ek het nogals die afbakenings gesien die laaste paar kere en het nou maar vanselfsprekend geneem dit is waarvoor dit is. Dit is redelik obvious.

Die meneer klink baie ernstig: “As die dromme nie in die blokke gesit word nie dan kan al die dromme nie in die area nie, so dis baie belangrik”.


No shit, dink ek.


“En daar is ‘n R80 fine as jy gevang word dat jy nie by die reels hou nie”, sê hy streng.

“Ek kan dink aan baie beter goed wat ek met R80 kan doen”, antwoord ek hom ligtelik, dink aan daardie bottel DuToitskloof wyn en giggel ongemaklik.

“My seun is eintlik gewoonlik in die week in die koshuis so hy het my ‘n guns gedoen om die drom dié keer uit te sit. Ek sal dit so aan hom kommunikeer”.


“Daar is net 2 reels en dis om jou ouers te gehoorsaam en die drom reg uit te sit”, grap (maar nie grap) hy. Ek voel die air is bietjie ‘ge-clear’.

“Nee, dis reg so”, stem ek in.

“Lekker aand verder mevrou”, groet hy.

“Lekker aand vir jou ook, Altus” antwoord ek, moerse in my noppies dat ek sy naam onthou het, want ek probeer regtig deesdae om ‘n punt maak om name te onthou.


Hier is my proposal vir ‘n beter reaksie, though:

“Hallo seun, weet jy dat die dromme in die blokke moet kom? Kom oom wys jou.”


In die tyd wat Altus by die sekuriteitkamer spandeer het, opsoek na die “kak ma” van nommer 33, kon hy al ‘n tjoppie ge-tan het of ‘n glasie brannas geniet het. Dis immers Woensdagaand EN langnaweek.

Maar no hard feelings. Hierdie was weereens ‘n goeie realization en growth opportunity vir my in my persoonlike lewe.


Intussen gaan die krag af vir loadshedding en die aangename, krulkop vroutjie af in die straat bring vir Reuven, my vyfjarige, huistoe. Hy gaan kuier altyd daar – hy LOVE dit om met haar kinders te speel en net daar te wees. ‘Estate living’ het sy benefits. Ek begin ‘n video edit wat ek baie graag op my blog wil plaas. Ewe skielik dink ek terug aan die drom-gesprek en ek voel amper eienaardig dat dit my nie méér upset het nie. I actually FORGOT about it. In die verlede sou so iets my nogals omgekrap het. Hoe min weet mense wat in ander mense se lewens aangaan? Wie dink hulle is hulle? Wie gee hulle die reg om so op te tree teen ‘n mens? En dan ken hulle jou nie eens nie?


Altus weet nie dat ons eintlik maar net ‘ends try meet nie’. Dat in die groter prentjie, die lyne waarin ‘n drom moet geplaas word eintlik so simpel en stupid is in ONS realiteit, is nie. Vir hom is dit baie belangrik. Reëls IS belangrik - and I respect that. Dis eintlik baie mooi hoe hy optree. Die lewe het hom nog nie so hard geslaan dat hy nie eintlik sien hoe kleinlik dit is nie. En ek is bly vir hom. Ek was ook op ‘n tyd daar, en dit was 'n mooi plek om te wees.


Ek is nog nie seker of ek nog daar sou wou wees, of nie. My man se dood het my in ‘n hele nuwe persoon laat verander. Iemand met rustigheid, understanding en deernis. Tog sou ek ook hom eerder hier wou hê ook, en ‘n idiot gebly het.


*Disclaimer: My tiener sê daar was een lyn van die blok was missing. Dis nie sy skuld nie.









486 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page