top of page

Vadersdag

Daar was deur baie mense vir my gesê die "eerstes" is altyd moeilik. Die eerste Kersfees, die eerste Moedersdag, die eerste verjaarsdag ens.


Ek moet eerlik wees, dit was nogals nie my persoonlike ondervinding nie. Dit gaan nie vir my oor die commercial dae nie. Dis meer die 'leading onto' deur goedjies wat by die skool gemaak gaan word vir almal se pappas, terwyl my kind moet deelneem aan die kuns aktiwiteite, maar tog weet dat hy nie meer 'n pappa soos die ander maatjies het nie. En dit breek my hart.


Die eerste rugby game, die eerste krieket game - dis wat vir my moeilik is. Ek vermy dit soos die pes, maar moet seker besef dat ek dit een of ander tyd gaan moet face. Ek kan nie die kinders vir ewig weghou van hierdie byeenkomste omdat ék daarmee sukkel nie.


Ek was ook nog nie weer by 'n atletiekbyeenkoms nie, want dis die laaste ding wat ons die oggend voor Jody se dood saamgedoen het ... Ons was by Reuven se interskole atletiek. Ons was amper laat die oggend en het parkeer oorkant Hugenote Hoërskool op die veld, in Wellington. Ons het koffie gekoop soos enige normale couple, pannekoek geëet en op die gras gaan sit. Jody kon lekker gesels met klomp vriende en kennisse wat ons daar raakgeloop het. Hy was so lief vir mense. Ek is bly hy kon oulaas connect met 'n paar. Ons het GEEN idee gehad wat oor enkele ure gaan gebeur nie. Geen.


Jody was 'n ongelooflike pa. Reuven en hy was onafskeidbaar. Ek het gevoel soos 'n bysaak, net die een wat vir Reuven gebaar het. Dis al waarvoor Reuven my nodig gehad het. Jody moes alles doen - Nesquik maak, hom aantrek, by hom kom lê tot hy slaap in die aande ... dit was net Pappa, Pappa, Pappa en nét hy mag goed vir hom gedoen het. Ek het altyd vir Jody gesê dat as een van ons moes 'gaan', dat dit asseblief tog ek sal wees, want ek weet nie wat ek met Reuven gaan maak sonder hom nie.


Ek tel vir Reuven die week by nasorg op. Hy is baie trots op 'n skepping wat hy gemaak het. Ek hou dit vas en bekyk die skepsel wat lyk soos 'n swart, oranje en rooi jellyvis. "Is dit 'n jellyvis?" vra ek hom. Hy skud sy kop. Negatief.


"Seekat?" vra ek. Hy lag vir my, draai die kunswerk om en ek sien dis eintlik 'n braai met vlamme en 'n silwer braaispaan ding op.


En toe besef ek met eens, agge nee, it is here - VADERSDAG.


Sy opgewondenheid is verbasend en so bietjie aansteeklik.

Ek word omkant gevang:

"Ek het dit vir oom Stephan gemaak!" sê hy trots met die grootste smile wat ek al gesien het.


Ek is ietwat verlig. Ek voel ook bietjie skuldig omdat ek verlig is, maar ek is so bly dat hy gevoel het daar was 'n doel met die maak hiervan - nie net in 'honour' van iemand wat nie meer hier is, terwyl die ander kindertjies dit vir hulle pappa's vanaand by die huis kan gaan gee nie.


"Kyk mamma! Dit maak oop!"

Hy vou die 'jellyvis/braai' oop en daar is 'n briefie geskryf aan die binnekant. Dit lees: "Ek is lief vir pappa". Hy het dit self geskryf.


"Ek dog jy sê jy het dit vir oom Stephan gemaak?"

"Ek het!" sê hy. "Oom Stephan is mos my bonus-pa". Hy giggel skoon van opgewondenheid.


Ek dink terug aan die een dag toe ek in die ou huis se kombuis gestaan het, besig met kos. Stephan het vir Reuven gehelp met sy skoene aantrek in 'n ander vertrek. Die hulp was veral welkom op daardie stadium. Ek het seker vir Stephan 'n maand geken. Hoe hy net ingespring en alles weer bymekaar kom trek het, is iets waarvoor ek vir ewig dankbaar sal wees. Dit was glad nie sy verantwoordelikheid nie.


"Gaan oom nou my pappa wees?" het Reuven gevra.


Ek het met eens koud geword. Arme Stephan, wat my skaars ken. Wat 'n ongemaklike, tog belangrike vraag. Ek het seker ophou asemhaal om seker te maak ek hoor presies wat hy antwoord vanuit die ander vertrek.


"My liefie, jou pappa sal altyd jou pappa wees. Hy is net nou by Liewe Jesus. Maar ek sal jou bonus-pappa wees?".


Vadersdag gaan okay wees. Ons gesinnetjie vier twee pappa's dié jaar. Een wat by liewe Jesus is, en een wat vir ons daarna gestuur is.


Dis moeilik om vir mense te verduidelik hoe ek iemand anders in my lewe so gou kon toelaat, maar dat ek nie 'oor' Jody is, of hom vervang het nie. Ek worstel al seker 'n maand met 'n blog post juis oor dit en om reg te kan verwoord hoe ek voel. Reuven het dit vir my eintlik so mooi opgesom met sy DIY Vadersdag geskenkie:


Ons sal altyd lief wees vir Jody. Ons sal Jody ALTYD celebrate, altyd oor hom praat, hom waardeer, en vreeslik, onbeskryflik mis. Ons ignoreer hom nie en ons skuif hom nie een kant toe nie. Hy sal altyd by ons wees. Maar ons het soveel liefde en dankbaarheid binne in ons, dat ons vir Stephan kan verwelkom in ons lewens. Dit vat nie weg van hoe ons oor Jody gevoel het of selfs nou oor hom voel nie. Dit vat ook nie weg van hoe ons oor Stephan voel nie. Inteendeel, dit sit net nog meer waardering en liefde by vir wat ons nou huidiglik het.


Gelukkige Vadersdag Jody, en Stephan! Ons is lief vir julle.


'Bonus-pappa' is tans in Amerika vir werk vir 'n baie lang tyd, so Reuven het 'n videotjie van sy skepping vir hom gemaak, met 'n baaaaie lang detailed verduideliking, wat ek moes kortknip, maar julle kan dit hier sien as julle wil:











205 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page